Solidariteit-lede ons helde
Die Solidariteit-beweging het in 2008 ‘n Groeifonds begin. Die doelwit is om die belange van elke gemeenskap van die vakbond op maatskaplike, opvoedkundige en kulturele gebied te beskerm en te bevorder.
Jy mag dalk nog altyd gedink het Solidariteit is net ‘n vakbond, maar die feit is dat Solidariteit se visie so groot geword het dat ‘n vakbond alleen nie meer beskrywend genoeg is nie. Solidariteit is nou ‘n beweging, met ‘n waardeketting wat die opdrag duidelik maak: sorg en bemagtiging aan ons gemeenskap van kindsbeen tot hul oudag.
Die visie van ons waardeketting het gelei tot die stigtign van die Groeifonds. R10 van elke Solidariteit-lid se maandelikse ledegeld word in die Groeifonds gestort. Die Groeifonds is nog net een jaartjie oud, maar die belegging in die Solidariteit-waardeketting is al fenomenaal.
Tydens Solidariteit se nasionale kongres is die eerste groot oorhandiging vanuit die Groeifonds gedoen. R10 miljoen is aan Sol-Tech, Solidariteit se eie opleidingskollege oorhandig vir die uitbou van Sol-Tech se opleidingsfasiliteite. Tegniese opleiding is baie duur en die toerusting wat vir die opleiding benodig word, kan nie uit die fooie wat vir opleiding betaal word, aangekoop word nie. Die Groeifonds stel Sol-Tech in staat om tegniese opleiding aan te bied, sonder om dit onbekostigbaar duur te maak vir die leerlinge.
Die realiteit is egter dat Sol-Tech so geweldig gegroei het dat hulle nie meer genoeg spasie en toerusting gehad het vir die opleiding van al die studente nie. Sol-Tech is weer oorweldig met aansoeke van studente vir 2010, maar kan ongelukkig net 260 studente inneem. En dis hier waar die Groeifonds in die toekoms ‘n groot rol gaan speel: om Sol-Tech te bemagtig om nog meer van ons lede se kinders op te lei.
Die Groeifonds het dit ook moontlik gemaak om die Solidariteit Beursfonds, wat deur Helpende Hand bestuur word, te verdubbel en die afgelope jaar is meer as R1,2 miljoen vir beurse uit die Groeifonds beskikbaar gestel. Solidariteit-lede se kinders sal in 2010 nie net studiebeurse kan ontvang nie, maar ook verblyfbeurse, sodat ons kan help om alle lede se kinders toegang tot opleiding te gee.
Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy het twee konsessies van Express Employment Professionals bekom, spesifiek om Solidariteit-lede by te staan om werk te kry. Hierdie jaar het die Groeifonds se bydrae gehelp om ‘n paar van ons lede wat hulle werk met die Pamodzi-krisis verloor het, te help om op ander plekke werk te kry.
Jy mag dalk nog altyd gedink het jou Solidariteit ledegeld is maar ‘n druppel aan die emmer, maar jy maak ‘n fout. Met jou ledegeld is jy ons held!